Kapersbrief

’n Kapersbrief wat via die eienaar van die skip Furet, Dominique Malfino van Genua, aan kaptein Antoine Bollo uitgereik is; 27 Februarie 1809.

’n Kapersbrief (Engels: letter of marque and reprisal; Frans: lettre de marque, lettre de course) was ’n regeringslisensie in die tydperk van seilbootvaart wat aan ’n privaat persoon, bekend as ’n kaapvaarder of corsaire, toestemming gegee het om die skepe van ’n land wat met die land van uitreiking in ’n oorlog betrokke was, aan te val en daarop beslag te lê. Daarna kon hulle in ’n hof aansoek doen dat die eienaarskap van die buit aan hulle oorgedra word. Die brief het aan kaapvaarders ook die reg geee om internasionale grense oor te steek om wraak te neem vir ’n aanval of besering. Soms is die bote wat gebruik kon word, in die kapersbrief gespesifiseer.[1]

Kaapvaart was van die laat Middeleeue tot die 19de eeu gewild onder Europeërs, en om ander skepe met ’n kapersbrief aan te val, is beskou as ’n eerbare beroep wat patriotisme en wins gekombineer het. Dit was in teenstelling met aanvalle op lukrake skepe, wat ongelisensieerd was en as seerowery bekend was; seerowery is feitlik algemeen afgekeur.[2] In werklikheid was die verskil tussen kaapvaart en seerowery dikwels subtiel en ’n kwessie van vertolking.[3][4]

  1. Donald Petrie, The Prize Game p. 4.
  2. Upton's Maritime Warfare and Prize pp 170–171; 176.
  3. Hewitson, Skull and Satire, p. 19–20.
  4. Konstam, Pirates: Predators of the Seas, p. 10.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search